2023/02/15
Goeie dag. (Tema: Swak maar sterk)
Deur die verloop vd eeue in Israel se geskiedenis het die Here keer op keer bewys dat Hy nie van mense afhanklik is om oorwinning te behaal nie. Die teendeel geld eerder , dink maar aan Jericho, Gideon, die ander Rigters, wonderwerke, David, en baie ander gebeure. Die Here verslaan lëers, terwyl Sy kinders in gehoorsaamheid toekyk. Hierdie selfde patroon vind ons in die gemeente van Filadelfia:
OPENBARING 3:8-9 AFR53
Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.
Wat n uitsonderlike gebeurtenis dat die gemeente se vyande kom erken dat GOD die gemeente lief het. Wat n totale oorwinning. As jy deel is van hierdie gemeente is dit ook jou ervarings. Die voorwaarde is dat jy God se Woord moet bewaar in jou lewe en daar volgens lewe. In ons swakheid word Sy krag openbaar. Kom ons steun en leun op Hom om ons deur te dra.
Genade en Vrede vir jou.
David