Goeie dag. (Tema : Glorie)
Die hoof tema van die boek Openbaring is die glorie en oorwinning van die koninkryk van God. Nêrens elders word die glorie van al die komponente waaruit die koninkryk bestaan so in detail geopenbaar nie. Dit begin met die bekendstelling van Jesus Christus in Sy glorie en mag. Dan volg die glorie van die gelowiges in die koninkryk.
Dan sien ons die glorie van die Vader. Gevolg deur die glorie van die lewende wesens en die ouderlinge. Ook leer ken ons die glorie en mag van die Engele wat as oorwinnaars die voordele van God op die aarde uitgiet. Ons lees van die bruilof van die Lam, die nuwe Jerusalem en die nuwe hemel en aarde. Die hoog verhewe skoonheid van die hemele word beskryf maar dit is soms bo ons begrip.
Die nietigheid van die mens en die bose word geopenbaar soos hul deur plaag na plaag vernietig word deur die verhardheid van hul harte. Hulle weier om ag te gee op die Engel wat die Evangelie boodskap oor die wêreld bring.
Die oog waarmee jy na die boek kyk bepaal die seën wat daaruit geput word.
Daar is oomblikke dat mens sprakeloos staan oor die oordele wat kom maar dan is jy net so stomgeslaan oor die halstarrigheid van die mense wat hul nie wil bekeer nie. Die grootste ervaring is egter die ervaring dat die boek die triomftog van Christus beskryf. Op ons wat die verwagting het om deel te wees van hierdie oorwinning, lê die taak om steeds te probeer siele wen vir die koninkryk, selfs in hierdie finale oomblikke.
Genade en Vrede vir jou.
David