Goeie dag. (Tema : Twee getuies)
In die tweede gedeelte van die week wat Daniel beskryf, staan daar in Jerusalem twee misterieuse figure. Hul outoriteit en aksies word in Openbaring 11 beskryf. Wat ons van hul weet is die volgende:
Hul verteenwoordig God op aarde.
Hulle staan teenoor die God v.d. aarde.
Daar is geen reën op die aarde terwyl hul hier is nie.
Hul het mag oor die natuur.
En vele ander.
Nieteenstaande hul bo natuurlike vermoëns is hul mense van vlees en bloed en word gedood deur die dier na twee en veertig maande. Maar hul herleef na drie en ʼn half dae en vaar dan op hemel toe.
En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.
OPENBARING 11:12 AFR53
Dit is duidelik uit die gedeelte dat alhoewel Satan feitlik vrye teuels gegee word op aarde hy nog steeds slegs binne perke mag beweeg. Dit is ook geïllustreer deur die tyd van Job se beproewing. Hy word slegs beperkte mag verleen.
Dit beteken dat in my en jou lewe hy net kan lastig wees tot die mate wat ons en God hom toelaat. Die belofte in die Woord is:
Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
JAKOBUS 4:7 AFR53
Soos ons in Openbaring 2 en 3 gesien het kan gelowiges oorwin. Moeilike tye is oorkombaar deur God se krag. Kom ons bewapen ons met hierdie gedagte dat God altyd in beheer is, al voel ons soms nie so nie.
Genade en Vrede vir jou. David