Goeie dag. (Tema : verdorwe karakter)
Paulus beskryf die algemene dominante karaktertrekke van die mens in die laaste dae:
…….Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
II TIMÓTHEÜS 3:2 AFR53……
Paulus wy vers een tot nege aan die beskrywing van die mens se gedrag. In Romeine 1 vers agtien tot twee en dertig lig hy die leser in oor die gevolge van so n selfgerigte lewe. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. ROMEINE 1:22-23 AFR53 Sulke eie wyse mense waarvan hul eie opinie, belang en wil rotsvas is kan glad nie tot bekering kom nie. En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie. OPENBARING 9:20-21 AFR53 Hul hang leerstellings van duiwels aan; waarvan die mees misleidende vorm n passiewe selfregverdigende godsdiens is. Beeld aanbidding is by die ontwikkelde mens vervang met meer abstrakte entiteite soos mag, rykdom, skoonheid, natuur, kennis en dies meer. Dieselfde demon net in n ander pakkie toegedraai. Steeds begeer die mens alles, op enige manier denkbaar, moord, towery, ens. In sy trots en hoogmoed weier hy om God te gehoorsaam deur hom te bekeer tot n heilige lewe. Hy sal eerder sterf op die verskriklike manier en dan n ewigheid in die hel, saam met die duiwel en sy engele ly as om op God se liefde en uitnodigende hand te reageer. Dit is die eienskappe van dwase soos beskryf in Spreuke. Kom ons soek die Here terwyl Hy te vinde is, nie net om die hel te ontsnap nie, maar om Sy Vader hart te beleef.
Genade en Vrede vir jou.
David.