Goeie dag. Tema : Verborgenheid van Dier.
Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. OPENBARING 17:8, 11 AFR53
Uit hierdie gedeelte sien ons twee sake:
Een: Die dier wat was en nie is nie,
en twee: dat die dier die agste koning is.
Dit is maklik om die tweede te begryp, dat daar reeds 5 konings was en een is in Open 17:10.
Die vyf konings was Egipte, Assirë, Chaldeers, Mede en Perde, Griekeland. Met die skryf van Openbaring het die sesde een geheers naamlik Rome.
Om te verstaan: “wat was en nie is nie”, moet ons na Bybelse paralelle kyk.
In die OT word voorspel dat Elia sal terugkeer aarde toe voordat Jesus gebore sal word.
Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. MALEÁGI 4:5 AFR53
Dan spreek Jesus van die vervulling van die profesie:
maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly. Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het. MATTHÉÜS 17:12-13 AFR53
Hieruit is dit duidelik dat dit nie die stoflike Elia is wat weer as mens gebore is nie maar dat die gees van Elia in Johannes die Doper was. Ons weet ook dat die gees van Elia op Elisa gerus het (2 Kon 2:15).
Uit bovermelde Skrif gedeelte is dit duidelik dat daar al n mens op aarde was, wat se gees, op die Dier gaan rus. Hierdie gees kom uit die afgrond (doderyk) uit. Daar is baie kandidate en bespiegelinge oor wie hierdie mens was. Name soos Alexander die Grote van Griekeland en Antihocus Epiphanes (156 VC) wat n vark in die tempel geslag het word genoem. Die Woord laat hom nie uit daaroor nie, maar ons weet dat dit die mees bose mens ooit sal wees.
.….. die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. II THESSALONICENSE 2:3-4 AFR53.
Genade en Vrede vir jou. David