Tema : Eerste Oordeel
Die Woord maak melding van drie groot oordeelsdae. My mening is dat daar n eerste oordeel in die hemel is voor die begin van die mellinium. Dit is n oordeel oor die gelowiges wat deel is van die eerste opstanding.
Die tyd wanneer dit gebeur, na my mening , kan afgelei word uit die volgende Skrifte:
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” OPENBARING 20:4 AFR53
Uit die gedeelte is dit die martelare wat uit die verdrukking kom, wat op die trone sit as konings. Hulle regeer oor die mense, wat die sewe jaar van verskriking, van God se oordele op die aarde oorleef het.
Die blote feit dat daar mense is wat op trone sit, om saam met Christus te regeer, beteken dat hulle reeds loon vir hul werke ontvang het. Die Woord vermeld verskeie krone wat ontvang gaan word; eerstens martelaars kroon, tweedens onverwelklike kroon en verder, kroon van lewe ens.
Christus se eie woorde is:
“Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.” OPENBARING 22:12 NLV
Daar is minstens twee Skrif gedeeltes wat die ontvang van belonings bevestig:
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” I KORINTHIËRS 5:10 AFR53
“En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;” I KORINTHIËRS 3:12-14 AFR53
Die algemene term wat die kerk daarvoor gebruik is die Bema troon. Dit is nie n oordeel van verdoeming nie maar van beloning, niemand gaan hier verlore nie. Hul vreugde om in die hemel te wees word net versterk.
Genade en Vrede vir jou. David.