Tema: Aanhoudend
Goeie dag.
Dikwels verloor gelowiges die vrymoedigheid om te bid oor n spesifieke saak. Veral as daar n tyd lank daarvoor gebid is. Die huiwering kan kom uit gedagtes dat God sê later, of Hy sê nee, of dit is nie Sy wil nie, ens. Ons kan ook dink dat Paulus se ervaring met die gebed om die doring uit sy vlees te haal beteken dat ons maksimum drie maal vir iets mag vra.
Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want… II KORINTHIËRS 12:8-9 AFR53
Baie gebedslewe word geknou omdat hul voel om n versoek te herhaal is n ydele herhaling van woorde (Mat 6). Jesus se gelykenis oor die vrou en die onregverdige regter in Lukas 18 wys daarop dat gebed moet aan hou todat God antwoord.
Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Hom roep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets? LUKAS 18:7 NLV
My persoonlike oortuiging is dat sommige gebede nooit verhoor sal word nie, maar dat die geloof behou moet word in God se beloftes. Beantwoording van gebede vind dikwels plaas as ons nie meer daar is nie. Die skynbare onbeantwoording van ons gebede moet ons nie beroof van ons geloof in God en die vergoeding daarvoor nie. Die beskrywing van die gebeure in Hand 12 leer ons die waarde van aanhoudende gebed. Die gemeente het gebid vir die bevryding van Petrus uit die tronk. Die frase; aanhoudend dui vir my daarop dat hul nie noodwendig saam was toe daar gebid was nie maar dat hul van oraloor gebid het. In praktyk, nie net een groep mense wat gebid het nie maar verskeie, ook individuele. Die woord aanhoudend verskil vir my van eendragtige gebed soos in die geval van Hand 2.
So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan. En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. HANDELINGE 12:5, 7 AFR53
Die aanhoudende of voordurende gebed het n bonatuurlike gevolg gehad. Lees Hand 12 om detail te kry. Die liefde vir die naaste moet elke gelowige dryf om aanhoudend vir die reading en vrymaking van siele te bid. Dit sal die wonderwerke laat plaasvind al weet ons nie daarvan nie. Eendag sal ons sien as ons in die die hemel kom.
Genade en Vrede vir jou. David