Tema : Feestelike geleentheid
Goeie dag.
Uit die Woord kan ons sien dat Christus se geboorte n feestelike geleentheid is. Beide in die hemel en op aarde. Die eenvoudigste mense van die tyd, die herders kry die hemelse voorreg om te luister; Lukas 2 beskryf:
LUKAS 2:13-14 AFR53
[13] En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: [14] Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!
Hierdie vreugde het ook voortgegaan met die besnydenis van Jesus. Ook in Lukas 2 vind ons die verhale van Anna en Simeon wat gewag het op die Verlosser se geboorte. Merkwaardige verhale wat vervul is in vreugde.
Hierdie tyd van herrinering aan die gebeure wat vir elkeen van ons n onbeskryflik groot voorreg gebring het, behoort ons te oorweldig. Oorweldig in vreugde, dankbaarheid en erkenning van Sy genade in ons lewens. Dit is vreugde te groot om vir jouself te hou, dit moet gedeel word met almal om ons.
Daar is soveel maniere wat almal gebruik, geskenke, saamwees, liggies, kersbome alles aardsgerig. Met Christus se geboorte was die gebeure gefokus op die aarde, met Sy opstanding is die sirkel voltooi.
SY reddings werk gaan voort tot met Sy wederkoms . Uit God na God is die sirkel. Die fees moet nie groter wees as die persoon waarom die fees gaan nie. Net gelowiges kan Christus weer in die Kerstyd terugbring. Watter groter voorreg is dit nie om met vrymoedigheid na God se troon te gaan om dankie te sê nie. Hy wat ons harte vrymaak van sonde en skuld gevoelens. Ons kan nooit dankbaar genoeg wees vir Sy genade nie. Mag die dankbaarheid sigbaar wees in ons feesvieringe.
Genade en Vrede vir jou.
David