Tema: Natuur
Goeie dag.
Saans en soggens staan mens verstom oor die mooiheid en kalmte van sonsondergang en sonopkoms. Elke dag bring n nuwe skildery van kleure en belewenis. Dan ook nog die voëls en nag geluide, die sterre hemel, wat n mens jou nietigheid laat besef. Baie mense beleef God in die natuur. Skilders en digters raak nog deur al die eeue liries oor die skoonheid van die skepping. Vanaf die skoonheid van die mens, tot die kleinste in die skepping laat ons verstom. Niks het self tot stand gekom nie. Alles is deur Sy Woorde geskep. Die wêreld is n lewende wese in eie reg, tot eer van God. Die Psalms beskryf dit so raak :
PSALMS 19:3-4 AFR53
[3] Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: [4] daar is geen spraak en daar is geen woorde nie — onhoorbaar is hulle stem.
God het en stel steeds Sy almag aan die mens bekend.
ROMEINE 1:20 AFR53
[20] Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Die mens, in die dwaasheid van sy eie vermoë, probeer God verduidelik in menslike terme en begrip. Dit is onmoontlik, en bring lastering mee. Daarom gee God hul oor aan hul eie dwaling en leuens. Die regte benadering is, om jou eie nietigheid en beperkings te besef en God te verheerlik oor Sy werke. Hom ook te verheerlik oor Sy onbegrypbare heerlikheid, heiligheid, Genade, Goedertierenheid en almag. Die Psalms veral is vol van lofliedere en gebede deur die Heilige Gees geinspireer. Sal dit nie besonder wees om tyd te hê om elke dag met n Psalm Hom te aanbid en te loof nie. Dit verlig jou gemoed, siel en gees tot op n hoe berg.
Genade en Vrede vir jou. David