Tema: Beloning
Goeie dag.
Daar is niks so de-motiverend as om te sukkel nie. Gewoonlik is die rede vir sukkel ‘n gebrek aan kennis of ervaring of soms net dat die elemente teen jou is. Vir hulle wat boer is dit nie onbekend, dat jou harde werk op tye met min of niks beloon word nie. Ander word op ander maniere gebry om geduld en uithou vermoë te leer. Elke mens het ‘n innerlike stryd tussen geloof en teleurstelling. Paulus jubel aan die einde van sy lewe:
II TIMÓTHEÜS 4:6-8 AFR53
[6] WANT ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. [7] Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. [8] Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.
Daar is n kosbare belofte vir die kind van God waarop jy kan reken as jou fondasie Jesus Christus is:
MATTHÉÜS 7:7-8 AFR53
[7] Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. [8] Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.
Die Here red nie net jou siel en laat jou alleen nie. Die Heilige Gees kom woon by jou, en dra jou nood oor aan God, dwarsdeur jou aardse bestaan. In al jou versoekinge, oorwinning, eensaamheid, swaarkry, vervolgings. Hy is altyd deur aan jou sy. Ook as jy faal en sondig wil hy jou optel. Daarin het Hy simpatie met jou. Paulus gee n groot waarheid deur as hy sê :
I KORINTHIËRS 15:19 AFR53
[19] As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
Daar is Beloning in volharding, die oorwinning oor teleurstelling, die aan hou in gebed en geloof. Volhard, Christus is ons enigste hoop.
Genade en Vrede vir jou. David