Tema : Eind bestemming.
Goeie dag.
Neerdrukkend, sonder hoop, desperaat, is dit die algemene toestand van die land waarin jy leef? ‘n Lewe wat ‘n gejaag na wind is, sonder ‘n hoër strewe. Vrees oor ‘n toekoms van oorloë, natuur rampe, armoede, verdrukking en nog slegte tye.
God dank vir die gelowige is en was daar nog altyd hoop. Selfs wanneer die oordele van God op die aarde losgelaat word, die eindtyd, is daar ‘n verwagting. Hul leef met ‘n salige hoop, ‘n verwagting want die Woord sê :
LUKAS 21:28 AFR53
[28] En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.
Deur die eeue is daar nog altyd tye van duisternis. Soms erger as ander kere, maar vir die gelowige was Christus nog altyd die hoop. Hul leef nie vir die nou en die oomblik nie. Hierdie lewe, hoe suksesvol ook al, is die laagtepunt in ‘n gelowige se lewe. Daar wag ‘n lewe wat die Woord sê, is onbeskryfbaar, ondenkbaar, verhewe bo die aardse lewe.
In Effesiers, beskryf die Woord, die verlossing uit genade, die insluiting van die heidene in die verlossingsplan, die verandering en heiligmaking in Christus, maar ook die stryd waardeur die gelowiges sal gaan. Die eenheid van die liggaam van Christus, die kerk, wat mekaar dra en versterk. Die voorreg om ‘n lewende gees te wees, waardeur die Heilige Gees kan werk.
Effesiers 6 is die bekende gedeelte oor die wapenrusting wat gelowiges ontvang het om te oorwin. Dit is nie net vir ‘n persoonlike oorwinning nie maar het ten doel, die sukses van die kerk. Die manier om die wapenrusting aan te wend word beskryf in:
EFÉSIËRS 6:18 AFR53
[18] terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
Deurdat jy in Christus hemelse burgerskap ontvang het en deur God geken word, is daar ‘n hemelse eind bestemming wat wag. Maak dit nie ‘n oorweldigende vreugde, opgewondenheid en verwagting in jou binneste los nie. ‘n Belewenis wat jou hierdie aardse omstandighede laat sien as ‘n ligte verdrukking.
Genade en Vrede vir jou. David