Tema: Sien
Goeie dag.
Om te kan sien en te hoor is ‘n Goddelike voorreg, wat ‘n mens nie altyd bewustelik waardeer nie. Om na lieflike musiek of ‘n sagte wind geruisel tussen die bome. Die kabel van ‘n stroompie, of na die stem van die see te luister. Dit maak mens bewus van iets groter as die verganklike. Daar is ‘n Skrif, “die een dag stort ‘n boodskap vir die volgende uit…..” Is elke sons opkoms en ondergang nie ‘n verkondiging van die Glorie van die skepping nie. Is elke berg reeks, en die kleinste delikate blom nie ‘n getuigskrif van ‘n onmeetbare Skepper met Sy skepping nie.
ROMEINE 1:20 AFR53
[20] Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Hoe kan enige mens wat sien en hoor ooit ‘n verskoning hê om nie God te verheerlik nie. Die fisiese natuur is maar ‘n kleine af beelding, skadu van die mag en skoonheid van God en Sy skepping. Die mens, in al sy verskeidenheid van nasies, wat ná die beeld van God geskape. Dit is die hoogte punt van die skepping. Dit is tog so jammer dat dit juis die mens is wat verblind deur die lewe gaan. Sonde in die breër sin verblind jou oë. Jy raak sienende blind en horende dood. Jy leer en kom nooit tot die begrip van die waarheid nie. In ‘n sin is ons elkeen op die plek wat vir Jesus se vraag oor wat Hy vir hom kan doen geantwoord het: ” Dat ek mag sien”..
Die belangrikste om in te sien dat jy sonder God verlore is. Dat jy die rykdom van Sy seën mis sonder Jesus Christus. Die seën het nie net op die abstrakte geestelike vlak betreking nie. Dit is ook van toepassing in jou allerdaagse bestaans lewe.
Die Woord is vol beloftes en raad oor elke aspek in jou lewe. Voedsel, klere, gesondheid, vrymaking, beskerming, kinders, huwelik en water aspek jy ook al kan dink. Die sleutel dat hierdie voordeel lê daarin om te kan sien, hoor en verstaan met ander woorde insig. Is dit nie ‘n voldoende en genoegsame rede om daagliks te bid. Here maak my oë oop.
Genade en Vrede vir jou. David