Tema : Bedien
Goeie dag
Dit is altyd ‘n spesiale plesier om iemand dop te hou wat iets doen met groot vaardigheid. Dit geld vir alles, sport, musiek, onderrig, ouerskap, kosmaak…. Dit is ‘n vertoning van meesterskap in ‘n gebied, dit kom net met ervaring en toegewydheid.
Daar is ‘n uitdrukking ; jy kan nie iemand iets gee wat jy nie self het nie. Eienaarskap is ‘n voorvereiste vir uitdeel. Dit geld op alle gebiede, ook op geestelike gebied. ‘n Aanhaling: “Dáár is baie mooi musiek, maar min met ‘n Heilige Gees salwing daarop”. Daar is baie prediking maar min met ‘n salwing daarop. Die mens kan baie vermag uit eie krag maar ‘n Heilige Gees gedrewe aksie het ewigheids resultate. Om geestelik effektief te bedien op enige manier vereis die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Om ‘n getuie te wees kom uit die krag van die Heilige Gees.
HANDELINGE 1:8 AFR53
[8] maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
Let op die volgorde, eers krag ontvang, gevolg deur getuienis, nie andersom nie.
Die Heilige Gees is die strome van lewende water uit die mens se binneste.
JOHANNES 7:38 AFR53
[38] Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
Met gebed bly ons in verbinding met die bron van die lewende water. Jesus sê:
JOHANNES 15:4 AFR53
[4] Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Wanneer ‘n mense gevul is, deur in Jesus te bly, is hul ‘n lewende bediening. Waar hul kom vloei die vrug van die Heilige Gees uit hul gees.
GALÁSIËRS 5:22 AFR53
[22] Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Diesulkes se teenwoordigheid, bring Christus se teenwoordigheid, waar hul ook al beweeg. Dit is ware bediening in Goddelike krag, nie menslike poging nie. Mag die Here elkeen ten volle gebruik waar hul ook al kom.
Genade en Vrede vir jou. David