Goeie dag.
Tema : geregtigheid
Die Christelike geloof se basis is God wat driemaal heilig is. Uit Hom en deur Hom is alle dinge.
PSALMS 97:2 AFR53
[2] Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.
In God se koninkryk is geen sonde, ongeregtigheid of vuilheid nie. Sy heiligheid is nie ‘n heiligheid na die mens se denke nie, maar ‘n absolute heiligheid. Dit is nie ‘n verborge saak nie, want Hy leer ons in Sy Woord wat Hy ag as reg. God leer ons Sy geregtigheid.
SPREUKE 1:3 AFR53
[3] om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid;
Alle mense moet aan dieselfde maatstawwe voldoen, God se maatstawwe. Diè vra nie wat jou kultuur is, of jou agtergrond, of jy ryk of arm is, watter ras jy is, of hoe het jy opgegroei, is jy slim nie, nee al hierdie sake is ondergeskik aan Sy vereistes.
Elke mens het ‘n sondige natuur, ingebore en vas gelê in wese en karakter. Daarom moet elke mens wat Christus aan neem as verlosser en saligmaker, heropgevoed word. Dit beteken dat dit wat ‘n mens vashou as waardes moet vervang word met die waardes van die Woord. Dit is die voorwaarde vir ‘n lewe wat God behaag. Om volgens God se waardes te leef is ‘n uiters bevredigende lewe. Dit is nie ‘n lewe soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? —(Kol 2:21), dit is ‘n lewe verwyder van die slegte in die lewe.
Jesus stel dit duidelik:
MATTHÉÜS 11:29-30 AFR53
[29] Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; [30] want my juk is sag en my las is lig.
Hierdie nuwe lewens waardes bring geluk, rus en vrede vir die mens se siel. Dit bring ‘n lewe waarin daar ‘n intense begeerte is, om in die Here se teenwoordigheid te kom. As jou lewe ‘n uitlewing van reg, geregtigheid en regverdigheid is, is daar niks wat jou skei van God nie. ‘n mens kan met vrymoedigheid tot Hom nader. Kom ons leer van Hom, en verander ons denke.
Genade en Vrede vir jou. David