Goeie dag.
Tema : Sieraad
Die vrug van wysheid is duidelik sigbaar en herkenbaar in die mens se lewe. Mense met wysheid is dikwels ‘n rolmodel in ander se lewe, omdat daar na hul op gekyk word en hul gereken word in die samelewing. Spreuke beskryf dit so mooi:
SPREUKE 1:9-10 AFR53
[9] want dit is ‘n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.
Wyse mense word gekenmerk deur standvastigheid en gematigheid. Gelowiges wat wysheid het is soos bome, hul lewe dra die vrug van die Heilige Gees.
EFÉSIËRS 5:9 AFR53
[9] Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
GALÁSIËRS 5:22 AFR53
[22] Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Die vrug van wysheid is nie net vir hierdie lewe nie. Die belangrikste vrug van wysheid is, dat so ‘n mens, die ewige lewe beërwe, saam met Christus. Hierdie wysheid is nie aardse wysheid nie, maar Goddelike wysheid. Dit is belangrik om te verstaan dat wysheid nie geleerdheid is nie. Geleerdheid bring aards gerigte vaardighede, terwyl wysheid beide insig en vaardigheid bring wat ewig is. Aardse gerigte vaardighede is tydelik en verbygaande. Soos tegnologie en kennis vermeerder moet heropleiding plaasvind, dit kom nooit op ‘n einde nie.
I KORINTHIËRS 1:27 AFR53
[27] maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;
Die Woord illustreer dit duidelik as hy oor geregtigheid leer. Gewone gelowiges het meer wysheid uit God as aardse regters:
I KORINTHIËRS 6:4 AFR53
[4] As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word.
Ware wysheid is tot verheerliking van God. Die mens is na sy beeld geskape en wysheid is om volgens Sy wese te leef. Dan is reg en verkeerd in jou hart geskryf en nie volgens reëls nie. Dit is God se begeerte dat die mens wysheid sal najaag met al sy krag.
Genade en Vrede vir jou. David