Goeie dag.
Tema : Werk
Elke mens het verskeie take in die lewe wat daagliks gedoen moet word. As jy ‘n ouer in ‘n gesin is, is dit nog baie meer as normaal. Dit vra vir versorging en dissipline, anders val die gesin uit mekaar. Wanneer ‘n mens ‘n kind van God is, bring jou Hemelse burgerskap ‘n vars lewe en groei. Een hiervan is opvoeding in die waardes en vereistes van die nuwe koninkryk en burgerskap. Hierdie waardes bring verandering in die manier van lewe, vir jouself en die gesin. Dit het ‘n positiewe en opbouende effek met goeie gevolge vir die daaglikse en ewige lewe. Dit vra soos in ‘n gesin, ook vir toewyding en dissipline. In die volgende verse spreek Wysheid hierdie opvoeding aan:
SPREUKE 2:1-5 AFR53
[1] MY seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, [2] sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; [3] ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, [4] as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, [5] dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind
Wysheid vra die volgende:
[1] ‘n oop gemoed om nuut te dink oor sake. Om volgens die nuwe insig te leef
[2] Om na Wysheid te luister en te oordink, sodat jy kan verstaan en sodat dit jou eie denk patroon word.
[3] Om die wysheid van Wysheid na te jaag en daarna te dors.
[4] wysheid se waarde is onmeetbaar, dit kom nie maklik nie maar moet gesoek word.
[5] Die beloning is kosbaar want dit bring ‘n ware lewe en kennis van God.
Uit bostaande Skrifte is dit duidelik dat geestelike groei nie sommer in ‘n mens se skoot val nie. Dit is soms ‘n pynlik leer proses en anderkere ‘n belewenis as die Here die oë van jou verstand oopmaak. Maar hoe ook jy dit beleef, dit bly ‘n lang proses waardeur ‘n mens gaan. Dit is meer as kennis wat verkry word. Dit gaan gepaard met beproewinge wat jou vorm, die toepassing van die kennis. Die bron van die kennis is die lewende Woord. Soos ‘n mens die Bybel lees, of lering ontvang verander die Skrif jou lewe. Mag die Woord elke dag jou lewe verryk.
Genade en Vrede vir jou. David