Goeie dag.
Tema : Swaard
In die Afrikaans taal is daar ‘n spreekwoord: Kennis is mag. Dit beteken dat dit ‘n algemene begrip is wat almal glo en verstaan. Daarom moet kinders skool toe gaan, ander kollege toe ander universiteit toe. Dit is ware bemagtiging. Kennis bemagtig die mens. Die Woord beskryf kennis as ‘n swaard in Efesiers 6.
EFÉSIËRS 6:17 AFR53
[17] En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God —
In die geestelike worstel stryd is ons wapens nie fisiese wapens nie, maar geestelik. Nie tasbare wapens nie, maar abstrakte wapens soos; geloof kennis van die Woord, hoop, vertroue, ondervinding ens.
Die lewende Woord moet deel van jouself word soos SPREUKE aandui:
SPREUKE 2:10-11 AFR53
[10] Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; [11] oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak,
Binne jou hart, binne jou siel, binne jou verstand. Toe Jesus deur die duiwel versoek is het Hy die kennis gehad om die duiwel te weerlê met die Woord. Die Woord was deel van Hom. Volgens JOHANNES 1 is Jesus die Woord:
JOHANNES 1:1-2 AFR53
[1] IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. [2] Hy was in die begin by God.
Die Woord oorwin die bose:
MATTHÉÜS 4:6-7 AFR53
[6] en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
[7] Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
Ek gebruik spesifiek hierdie verwysing omdat dit wys hoe die Woord gebruik kan word vir misleiding. Woord kennis en insig moet sodanig wees dat jy misleiding kan herken. In die res van die hoofstuk is voorbeelde hoe Jesus die duiwel weerstaan met die Woord.
As die mens homself vul met die letter van die Woord bring dit geestelike dood. Jy het reg gelees. Die mens moet gevul word met die lewende Woord. Dit is met Goddelike wysheid en nie net geleerdheid nie.
Hierdie dagstukkie is waarskynlik te veel vir een keer, maar bepeins dit.
Genade en Vrede vir jou. David