Goeie dag.
Tema : Bewaar
Daar is baie kennis in die wêreld wat nutteloos raak. Soos tegnologie en kennis vermeerder word nuwe gebruike gevestig wat die vorige vervang. Net die Here is onveranderlik en ook Sy openbaring in die Woord.
II TIMÓTHEÜS 3:16 AFR53
[16] Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
Hieruit is dit duidelik dat God se wese en geregtigheid nie verander soos tye, gebruike, waardes en tegnologie nie. Die mens is egter gebore met ‘n sondige natuur wat rebels is teen God en Sy gebod. Wysheid bewaar die mens van hierdie dwaling:
SPREUKE 2:12-16 AFR53
[12] om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek;
[13] van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel;
[14] die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte,
[15] van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore;
[16] om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei
Daar is geen verduideliking nodig wat die weg van die slegte is nie. Daagliks oordonder die nuus ons met hul aktiwiteite. Wysheid bewaar die mens om so ‘n pad te loop en ook om ‘n slagoffer te word van hul wat die pad loop. Wysheid stel jou in staat om hul vals woorde te onderskei. Dit bewaar jou van die raad van die goddelose. Dit bewaar jou van misleidende woorde.
‘n Sentrale tema dwarsdeur die Woord is die waarskuwing teen misleiding; vanaf MATTHÉÜS tot in OPENBARING. Dit is ‘n ernstig gevaar wat net getroef kan word met nugter Woord kennis en insig. Die gedeelte uit SPREUKE wys duidelik op die manier wat slegte mense optree. Hul word aan hul vrugte uit geken, hul lewe spreek van sonde en ongeregtigheid. Hul praat kwaad goed en goed kwaad. Die Woord maak ‘n duidelike stelling dat ‘n boom nie goeie en slegte vrugte kan dra nie. Dade spreek meer as woorde. Om wysheid te verkry is om jou lewe op dié Rots te bou. Dan sal jy staande bly.
Genade en Vrede vir jou. David