Goeie dag.
Tema : Mededeelsaam
I KORINTHIËRS 10:26 AFR53
[26] Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. (Ps24:1)
Gesien in die lig van hierdie vers, is alles wat ons ontvang net ‘n geskenk van die Here. Is dit daarom te veel om te verwag dat jy jou seën met ander moet deel? Alles wat jy ontvang kom van die Here af, maar Hy behou ‘n deel daarvan vir Homself. Dit is jou taak om Sy gedeelte terug te gee aan Hom. In die Ou Testament het die wet van Moses vereis dat jou eersgeborene losgekoop moet word deur middel van ‘n offer. So ook van jou vee en die opbrengs van jou lande. In die tyd van die profete en die tempel is God se deel vir Hom terugegee met offers by die tempel.
NÚMERI 18:15-16 AFR53
[15] Alles wat die moederskoot open — alle vlees wat hulle vir die Here aanbring, mense en diere — moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop. [16] En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf ‘n maand oud moet jy loskoop,…..
Die offers het ook as voedsel vir die Liviete gedien. As ‘n mens nie God se deel terug gee nie, vat jy wat nie aan jouself behoort nie. Dit is erger as ondankbaarheid, dit is misdaad.
Salomo stel die proses van terugegee aan God so positief:
SPREUKE 3:9-10 AFR53
[9] Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; [10] dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.
Dit is nie nodig om te wonder waar om te gee nie. Die uitleef van naaste liefde is een van die vernaamste metodes:
SPREUKE 3:27-30 AFR53
[27] Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. [28] Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het.
JAKOBUS 2:15-16 AFR53
[15] As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, [16] en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit?
Mag die liefde van God so oorvloedig wees dat ons oorvloedig Mededeelsaam is.
Genade en Vrede vir jou. David