Goeie dag.
Tema : Omhelsing
Toe ek ‘n jong seun was het ek ‘n pragtige wit formele baadjie as ‘n geskenk gekry. Dit was iets spesiaal en het my goed laat voel as dit gedra is. Die Woord beskryf wat gebeur as jy Wysheid soos ‘n baadjie dra:
SPREUKE 4:8-13 AFR53
[8] Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. [9] Dit sal ‘n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou ‘n sierlike kroon verskaf. [10] Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word. [11] In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree; [12] as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. [13] Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.
Weereens is daar iets wat die mens moet doen om voordeel te ontvang:
[V8] Eer wysheid dan sal dit jou verhoog.
Omhels dit dan ontvang jy eer. Die praktiese daarvan is deur die beginsels jou eie te maak en jou lewe daar volgens te lewe.
[V9] Wysheid verhoog jou bo jou omstandighede en tydgenote. Mense met wysheid word admireer en geëer in die samelewing, hulle het ‘n positiewe nalatenskap wat lank verby hul eie lewens strek. Hulle is die grysaards wat die samelewing impakteer.
[V10] Wysheid lei die mens om die regte besluite te neem. Dit lei tot ‘n lang vreugde volle, vrugbare lewe.
Die Woord is vol praktiese raad hoe om in geregtigheid te lewe. Alhoewel ons in die Nuwe Testamentiese tyd lewe is die norme van reg en verkeerd uit die Ou Testament nog steeds waardevol en geldig. Kennis hiervan is deel van wysheid.
[V11] Wysheid leer jou om in opregtheid te lewe. Om in opregtheid te lewe is om soos ‘n oop boek te wees. Ander kan jou lewe lees en daar is geen verskuilde agendas, misleiding of valsheid in nie. Dit is ‘n Kenmerk van waarheid.
[V12] Wysheid maak jou lewenswandel voorspoedig, nie noodwendig gemaklik nie. Voorspoed en gemak is nie sinoniem nie. Gewoonlik vereis voorspoed werk, toewyding, dissipline en diesulkes kwaliteite. God seën die arbeid van opregtes. Wysheid bewaar jou weg wanneer jy vinnig en ook as jy stadig vorder.
[V13] Die mens is die hele lewe onderwerp aan tug. Mens bereik nooit volmaaktheid nie, groei bly deel van die lewe. Daarom is tug noodsaaklik in elke mens se lewe.
Genade en Vrede vir jou. David