Goeie dag
Tema : Uitgemis
Sonde begin altyd by ‘n begeerte of behoefte. Dit is nie eers noodwendig ‘n slegte behoefte nie, maar soms ‘n dood normale menslike behoefte. So byvoorbeeld kan ‘n mens liefde, versorging, steun, erkenning, intimeit, ens, in jou lewe mis. Normale behoeftes wat deur ‘n ander mens voorsien moet word.
Die probleem kom as ‘n mens hierdie noodsaaklikhede buite die riglyne van God gaan soek. Dan kom jy in oortredinge, wat jou beskerming en seën wegneem omdat jy ongehoorsaam is. As mens weet wat reg is en tog verkeerd gaan, kan die Woord met reg vra waarom stort jy jouself in die ongeluk:
SPREUKE 5:20-23 AFR53
[20] Maar waarom sou jy, my seun, by ‘n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ‘n ontugtige omhels?
Die Here het ‘n huwelik daar gestel sodat die mens ‘n maat kan hê. Indien daar by die Bybelse voorskrifte hou, is daar vrede en volkome geluk te vind. Salomo kom tot die volgende slotsom oor die lewe:
PREDIKER 9:9 AFR53
[9] Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son — al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son.
[21] Want elke mens se weë is voor die oë van die Here, en Hy weeg al sy gange.
Die Here sien jou hele lewe, ook jou omstandighede daarom sal Hy jou regverdig oordeel. Hy weeg jou dade op teen jou omstandighede. Hy gee uitkoms waar nood is, maar vereis vrees vir SY weë.
[22] Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
Wanneer daar ongeregtigheid in ‘n mens se lewe is, is dit soos n vangnet. Hoe meer mens spartel hoe stywer trek die net. Hoe langer daar verkeed gehandel word hoe moeiliker word dié losbreek daarvan.
[23] Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
Die loon van sonde is die dood ongeag die persoon. Persoonlike opinie en oortuiging is waardeloos as dit nie ooreenstem met die waardes van die Woord nie. Dit is dwaling wat jou laat uitmis op God se seën. Net die weg van die Woord bring ware vryheid en geluk.
Genade en Vrede vir jou.
David