Goeie dag.
Tema : Feesmaal
Die Woord bied ‘n feesmaal vir die mens en dit is altyd beskikbaar. As jy benoud is bemoedig die Woord jou. Wanneer jy alleen is bring dit n vriend. As jy eensaam is bring dit ‘n gesprek. As jy moedeloos is beur dit jou op. Slagoffers word verander in oorwinaars. Swakkes in helde. Die dwaas kan wysheid verkry. Vir die met frustrasie bring dit kalmte en vrede. Vir die siekes bring dit ‘n uitkoms. Dit is ons bron van hoop en lewe. Wat ook al jou behoefte, die Woord bring hoop. As jy wonder oor die toekoms, die Woord lig jou in. Vir al dit, vra dit nie geld nie, net jou tyd en aandag.
SPREUKE 7:1-4 AFR53
[1] MY seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou; [2] onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel; [3] bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart. [4] Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling,
Die Here openbaar alles van Homself wat Hy wil, in die Woord aan die mens. Beleef jy nie die Woord is lewend en lewens veranderend nie? Om dit te lees is soos in die son te sit op ‘n koue dag, dit verander jou gemoed en emosies op onsigbare manier. Dit het so ‘n positiewe uitwerking soos asemhaling, daarsonder lewe die mens in benoudheid. Wanneer jy die Woord ervaar sal die stelling in HEBREËRS jou werklikheid wees:
HEBREËRS 2:3 AFR53
[3] hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het,
Daar is wolke van getuienis rondom ons van hulle wat die Woord beleef soos ‘n knus kombers waarin jy toegevou is. Mens raak uit woorde uit om die impak van die Woord in elkeen se lewe te beskryf. Daarom kan ‘n mens verstaan hoekom mens bereid is om hul lewe te gee om ‘n stukkie van die Woord te kry. In die lande waar die kerk vervolg word, ken die gelowiges die ware waarde van die Woord. Hul sal alles waag om die Woord te besit. Watter waarde heg elkeen van ons aan die Woord?
Genade en Vrede vir jou.
David