Goeie dag.
Tema : Sieraad
Daar is ‘n spreekwoord: Moenie wors in ‘n hondehok soek nie. Menende soek op die regte plek na iets, daar waar sukses mees waarskynlik is. Die Woord leer ons waar om wysheid te soek, nie waar ons noodwendig sal dink nie. Die verskil in menslike wysheid en Goddelike wysheid word hier illustreer.
SPREUKE 8:1-4 AFR53
[1] ROEP die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie? [2] Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy, [3] aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop: [4] Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.
In Salomo se tyd was daar ‘n tempel, maar dit was nie die plek waar wysheid gesetel was nie. Dit is duidelik dat wysheid oral versprei is. Nie slegs in boeke nie, maar in mense oral oor. In hulle, wat hul kennis met ervaring beproef en eie gemaak het. Hierdie is ‘n uiters belangrike punt. Kennis met baie ondervinding, bring ervaring Wysheid kom as ervaring wat in baie omstandighede toegepas kan word.
Dan eers kan daar gewig aan kennis geheg word. Hierdie Bybelse beginsel word bevestig in TITUS en TIMÓTHEÜS waar hul kerkleiers moet aanstel:
I TIMÓTHEÜS 3:7 AFR53
[7] Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.
Ouderling moet al ‘n goeie reputasie opgebou het in die samelewing, dit vat tyd en is ‘n bewys van wysheid. Netso moet vroue kwalifiseer op grond van hul karakter om jonges op te voed:
I TIMÓTHEÜS 5:9-10 AFR53
[9] Laat ‘n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het [10] en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.
In sulke mense het Wysheid gegroei uit kennis, hul stem is die van Wysheid. Hulle het die toets van die tyd weerstaan en is nuttig in God se koningkryk. Beproef verklaar, die Here is hulle bronne van wysheid en ‘n werkstuk in Sy hand, volg hulle.
Genade en Vrede vir jou.
David