Goeiedag.
Tema: Vrou Dwaasheid
‘n Kenmerk van ware gelowiges is dat hul bereid is om hul lewe af te lê vir hul geloof. Hierdie oortuiging kom uit ‘n ontmoeting met Jesus Christus. Dit kom uit ‘n lewe van diens in liefde aan ander. ‘n Lewe waarin gestreef word dat Christus meer sal word en jyself minder. Dit is die teenpool van ‘n fanatiese lewe waarin ‘n mens, ander mense wil vernietig en dood maak omdat hul verskil van jou oortuigings. Die teenoorgestelde geld vir die Evangelie, met die uitstaande kenmerk van almal wat wil kan kom, niemand word gedwing nie. Gelowiges leef in ‘n realiteit wat nugter beoordeel moet word dwarsdeur hul lewe in térme van die resultaat van hul werke. In teenstelling hiermee sê die Woord die volgende vir die dwase:
SPREUKE 9:13-18 AFR53
[13] Vrou Dwaasheid is onrustig, pure eenvoudigheid en heeltemal onkundig; [14] en sy sit by die deur van haar huis, op ‘n stoel op die hoogtes van die stad, [15] om te nooi die wat op die weg verbygaan, die wat op hulle paaie reguit wandel: [16] Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy: [17] Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker. [18] Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie.
Dit is tog so tragies dat mense hul harte verhard teen die roepstem van Wysheid en so graag na vrou Dwaasheid luister. In werklikheid hoor elke mense Dwaasheid se stem wat so oortuigend en misleidend is. Dit is deel van die mens se gevalle toestand waaruit jy net verlos kan word deur die Evangelie van Jesus Christus, die Blye boodskap. Daar is geen rede tot trots en roem nie, net diepe blye dankbaarheid. Dit vra ‘n daaglikse keuse en stryd tot heiligheid. Hierdie stryd kan net gewen word deur die krag en kennis wat by Wysheid verkry word. Die vrug daarvan is die lewe van oorvloed en guns vir ewig. Mag elkeen se lewe ‘n helder lamp wees wat ander na Christus toe trek.
Genade en Vrede vir jou.
David