Goeiedag.
Tema: Herhaling
Wanneer ons deur die Bybel lees kan mens nie help om te sien hoeveel keer daar herhaling is nie. Lees ons deur die geskiedenis van die Israeliete dan herhaal hul storie oor en oor, net die name verskil verder is dit dieselfde. Dit ‘n verhaal van; gehoorsaamheid aan die wette van God, bring sëen en voorspoed, ongehoorsaamheid daaraan bring ellende. Hierdie beginsel is die goue draad vanaf Genesis tot Openbaring.
Herhaling is nodig omdat dit gebruik word om feite vas te lê. Dink maar aan die eerste resitasie wat jy moes hardop opsê, oor en oor todat jy dit later in jou slaap kon herhaal, pynlik. Jesus het stories gebruik om mense te leer, dink maar aan die gelykenis van die saaier. ‘n Eenvoudige storie wat groot waarhede illustreer. ‘n Derde manier van leer is sang, waar woorde met musiek kombineer word. Wie ken nie die lied van MATTHEUS 6 , die Onse Vader nie, die volmaakte gebed. Maklik om te leer en altyd onthou. So is daar die vier evangelies wat dieselfde verlossingsplan beskryf. ‘n Viermalige herhaling met ‘n klem verskuiwing, sodat elke mens ‘n begrip kan vorm binne sy raamwerk van ervaring en begrip.
Niemand kan die Here dien sonder kennis nie, dit is onmoontlik. Ons lees:
I KORINTHIËRS 1:4-5 AFR53
[4] Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is, [5] dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;
Om die Woord te ken en te gehoorsaam is om die Here te ken. Sonder gehoorsaamheid aan die Woord is dit slegs kennis sonder begrip. Ware kennis van die Woord volg as die mens se verstand oop gemaak word.
LUKAS 24:45 AFR53
[45] Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
LUKAS 24:31-32 AFR53
[31] Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. [32] En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?
Mag die Here Sy Woord vir ons uitlê.
Genade en Vrede vir jou.
David