Goeiedag.
Tema: Geheime
Alle goeie dinge in die lewe het ‘n geheim daaragter. Daar is ‘n algemene term; “die geheim van die lewe” wat gebruik word. Die Woord bevestig dat daar ‘n geheim is hoe om reg te lewe:
MATTHÉÜS 7:13-14 AFR53
[13] Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. [14] Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Hulle wat die geheim ontdek het, word deur die Woord beskryf as regverdiges. Regverdiges se lewe word gekenmerk deur die vrug van hul werke en lewe.
SPREUKE 11:8-11 AFR53
[8] Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek. [9] Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered. [10] Oor die voorspoed van die regverdiges jubel ‘n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel. [11] Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.
In tye van benoudheid ontsnap regverdiges maar goddeloses gaan te gronde (Vers 8). Dit wat die goddelose spreek bewerk sy ondergang maar ‘n regverdige se taal red hom (Vers 9). Regverdiges bring voorspoed waar hul is, want God se seën rus op hul. Hul voorspoed deel hul met ander en daardeur baat die gemeenskap. Hul bring orde, struktuur en wette.
Waar die goddelose heers is egter duisternis en verdrukking, daarom is hul ondergang vreugde vir ander (Vers 10). Regverdiges bring welvaart en eenheid na ‘n stad maar goddeloses bring afgunstigheid en jaloesie wat ‘n gemeenskap afbreek( Vers 11). Die regverdiges is die sout van die aarde, nie noodwendig uit keuse nie maar uit opdrag van die Here. Hul lewe moet ‘n refleksie wees van heiligheid en geregtigheid. Dit is ‘n oop boek lewe wat deur die wêreld gelees word. Watter verhaal vertel ons lewens aan hulle wat rondom ons is? Betroubaar, eties, mensliewend, onselfsigtig , vriendelik en al daardie ongesproke kwaliteite wat nodig is om n waardige en geloofwaardige getuie te wees.
Genade en Vrede vir jou.
David