Goeiedag.
Tema: MY manier
Daar is baie maniere om ‘n ding te doen. Sommige beter as ander maar daar is net een beste manier. Om die beste manier te vind is dit nodig om die verskillende maniere te vergelyk . Daaruit kom ‘n besluit van die beste manier vir jou toepassing. Die mense se insig en vermoë bepaal sy keuse:
Spreuke 12:8 AFR20
[8] Ooreenkomstig sy skranderheid word ‘n man geprys, maar iemand met ‘n verwarde hart is uitgelewer aan veragting.
Wanneer jy ander se metodes bestudeer spaar jy jouself baie moeite want jy kan leer uit ander se foute. Mens hoef nie die wiel te herontdek nie, gebruik die bestaande kennis. Net dwase is so koppig dat hul net hul eie kop wil volg. Dit geld vir alle gebiede in die lewe; emosioneel, geestelik, finansieel, verhoudigs, loobaan ens. In die sestiger jare was daar ‘n gewilde musiek treffer: ” I did it my way”. As jy in Spreuke lees is die lied, die werkswyse van ‘n dwase persoon. Koppig en hardnekkig, ‘n houding van : niemand sê my niks nie. Slaan ons nie almal soms ons hande in magteloosheid saam oor die dwaasheid van mense wat nie raad wil aanvaar nie.
Spreuke 28:26 AFR20
[26] Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar wie met wysheid leef, hy kom vry.
In die Woord is daar manne wat bekend was oor hul insig en goeie raad. Dit dui daarop dat insig ook ‘n gawe van God is. Manne soos onderandere Argitofel:
2 Samuel 16:23 AFR20
[23] Die raad van Agitofel wat hy in dié tyd gegee het, was so goed asof iemand ‘n woord van God gevra het. Dit is hoe al die raad van Agitofel aan Dawid sowel as aan Absalom beskou is.
Dit is so belangrik vir elke persoon om raadgewers met ervaring en wysheid in hul lewens te gebruik. Soek na sulke mens met ‘n suksesverhaal en leer van hulle. Hul is skaars maar oneindig waardevol.
Spreuke 29:1 AFR20
[1] Iemand wat ná teregwysings hardnekkig bly, sal onverwags verpletter word, sonder kans op herstel.
Koppigheid is nie net dwaas nie maar ook sonde en bring elende:
1 Samuel 15:23 AFR20
[23] Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
Genade en Vrede vir jou.
David