Goeiedag.
Tema: Vals beeld
Daar is ‘n besonder beskrywende Afrikaans spreukwoord: ” Bo blink onder stink” . Dit beteken dat mense dikwels ‘n mooi beeld van hulself voorhou, maar in werklikheid het hul ‘n vrot karakter. Dit het vele toepassings, soos hulle wat hulself slim hou en koppig is tot eie nadeel, mense wat voorgee dat hul ryk is, mense wat ‘n voorgee godsdienstig is, ens. Hierdie vals lewe word baie plekke in die woord veroordeel, onderandere ook in Spreuke:
Spreuke 12:8-10 AFR20
[8] Ooreenkomstig sy skranderheid word ‘n man geprys, maar iemand met ‘n verwarde hart is uitgelewer aan veragting.
[9] Wie gering geag word, maar tog ‘n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar ‘n gebrek aan brood het.
Ook Jesus spreek die onderwerp aan in Lukas 14, hier is net ‘n paar verse daaruit:
Lukas 14:28-29 AFR20
[28] Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? [29] Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot ….
Om Christus te volg beteken ‘n eerlike lewe van waarheid en integriteit en nugterheid, eerstens met jouself en dan ander. Die Woord getuig van Hom (Jesus) as die Weg die Waarheid en die Lewe. Hy is die voleinder van die Geloof. Ware geloof vereis gehoorsaamheid aan Hom, en in hierdie konteks ‘n lewe oop boek lewe. ‘n lewe sonder geheime waaroor ‘n mens skaam is.
Om ‘n eerlike lewe te lei, met jouself en met ander, verwyder spanning uit jou lewe. Dit wat jy is, is nie die eindproduk van jouself nie, maar belangriker, jy is nog nie volmaak nie. Elke kind van die Here is in ”n proses van heiligmaking. Dit kan net gebeur as jy jou swakhede bely en vra vir vrymaking daarvan. Byvoorbeeld, as oneerlikheid ‘n probleem is, bely dit, vra vergifnis en maak reg. Om ‘n pad van waarheid te stap, beteken om ‘n kruis van selfverloning op te neem. In eenvoudige woorde, wees bereid om verbeter te word, al vra dit die prys van waarheid. Sterkte op dìe pad, elke gelowige stap diè pad tot op die einde van hul aardse lewe.
Genade en Vrede vir jou.
David