Goeiedag.
Tema: Diere
Toe God die mak diere, wilde diere, visse en voëls gemaak het was dit goed in Sy oë. ( Gen 1:25 ) Die mens is aangestel as heerser oor hul met ‘n verantwoordelikheid. Diere is vir God ‘n belangrike deel van Sy skepping. Sondanig dat hul verteenwoordigers in die hemel het wat voordurend voor God se troon is. Dit sien ons in die volgende verse:
OPENBARING 4:6-7 AFR53
[6] en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. [7] En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.
Die welsyn van die hele Skepping is vir God belangrik en Hy sorg daarvoor. Psalm 104 beskryf Sy sorg vir die lewende skepsels, pragtig lees gerus.
God sorg vir die Mossies, beklee die lelies, ens. Groot is Sy liefde en werke!
Ons lees die volgende in:
SPREUKE 12:10, 20 AFR53
[10] Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed.
Dit vra die vraag; kan die mens teen diere sondig? Wreedheid is een van die kenmerke van die sonde van die laaste dae (2 TIMOTEUS 3:3). In God se omgee, sluit mak diere in, in Sy Ou Testamentiese bevel van’ ‘n Sabbat ( EXODUS 20:10). Diere moet ook rus van werk. Dus tenminste twee gevalle waar die Here opkom vir diere se welstand.
Hierdie gedagte kan ontaard in ‘n emosionele debat oor die regte van ‘n dier. Baie mense probeer diere op gelyke vlak stel aan mense in terme van emosie en sorg. Ek dink dit is nie goed. Vleis is deel van die dieet wat God aan die mens gegee het. Verder is diere ook gebruik vir OT offerhande. Diere het hul plek maar wreedheid teenoor diere is beslis sonde. Laat elkeen volgens sy omstandighede optree sonder wreedheid of verafgoding van diere. ‘n Boer soos dit moet, ‘n troeteldier eienaar behoorlik, sonder om mekaar te bevraagteken en te veroordeel.
Genade en Vrede vir jou.
David