Goeiedag.
Tema: Drome
Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord; ” Mik vir die wolke en val op die dak, mik vir die dak en val op jou sitvlak “. Niks in die lewe kom sonder hardewerk totstand nie, sal elke wyse mens weet. Self om in sonde te verval vat ‘n volgehoue poging van verkeerde lewe. Hoeveel te meer kos dit inspanning om ‘n droom na te jaag. Op die pad na ‘n mens se droom kom daar meer dikwels terugslae. Hoe groter die droom hoe hoër is die vereiste wat gestel word. Daar is geen waarborg dat selfs harde werk altyd tot sukses lei nie. Dit is hierdie toestand wat die gesegde laat ontstaan het. Ons lees:
SPREUKE 12:11 AFR53
[11] Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand.
Ons kan die vers oppervlakkig verstaan maar daar is ‘n dieper betekenis ook. Die vergoeding van Bhom wat sy land bewerk is nie net die brood wat verkry word nie. ‘n Belangriker saak is die geestelike en emosionele groei wat in so ‘n proses plaasvind.
Om ‘n land te verbou is nie net plant en oes nie, maar volgehoue versorging en bewerking is nodig. Dit vra daaglikse dissipline en toewyding. Om fokus te verloor en tyd te verspil op nietighede, kan fataal wees. Die risiko wat geneem word is ‘n dom daad sonder verstand. Hierdie wysheid geld vir die sekulêre sowel as die geestelike. Verder weet wyse mense dat verval nie oornag plaasvind nie maar geleidelik gebeur. Daarom is dit belangrik om gereeld stil te staan en te kyk of dit wat mens doen nog in lyn is met jou mikpunt. Jaag jy nog jou eindoel na, of gebeur die volgende:
MATTHÉÜS 24:11-13 AFR53
[11] En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. [12] En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. [13] Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
In alle ideale is daar mense wat jou wil ontmoedig of jou aandag van jou fokus wil aflei. As jou ywer dan verspil word op bysake gaan jy jou fokus verloor en nie die bestemming bereik nie. Is jou fokus nog voldoende om oorwinning te behaal ?.
Genade en Vrede vir jou.
David