Goeiedag.
Tema: Waardig 2
Alle mense wil graag erken en respekteer word, of met ander woorde waardigheid hê. Ook dit vereis werk en kom nie vanself nie. Die Woord sê:
SPREUKE 12:24-28 AFR53
[24] Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid.
Hierdie stelling strek wyer as finasies en geld. Dit geld ook vir alle verhoudings, gesin, huwelik, vriende, kollegas, ens. Alles wat die moeite werd is vra ‘n positiewe poging, net sleg wees kom met gemak. ‘n Persoon se leefstyl dwing respek of minagting af. Wanneer met sedeloosheid, vergrype en traagheid geleef word sal daar geen respek wees nie. Hierteen bring vlytigheid en toewyding aan enige positiewe saak goeie resultate en vrug. Vir enige leierskap moet daar voldoen word aan die lering in TITUS (lees gerus). Let op die
Karakter trekke wat genoem word:
Titus 1:7-9 AFR20
[7] Want ‘n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie, [8] maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd. [9] Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys.
So ‘n lewe dwing respek af en is navolgenswaardig. Hierdie tipe lewe is ‘n getuie van die ware gelowigheid en het krag en egtheid. Dit is ‘n oorwinnaars lewe wat deur God beloon sal word. Dit beteken nie dat jy die beste is nie, maar ‘n deel van ‘n skare uitgesoekte oorwinnaars. Dank die Here dat nie net die wat eerste kom die koninkryk kan beërwe nie, maar alle oorwinnaars. Dit gee gewone mense soos myself ook ‘n kans. Jesus sê uitdruklik:
Matteus 19:30 AFR20
[30] Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.
Laat ons dan elkeen ons eie beste wees en ons nie bekommerd om eerste of bo aan die leer te wees nie, wees net n waardige oorwinaar.
Genade en Vrede vir jou.
David