Goeiedag.
Tema: Vlytig
Die woord vlytig is vir baie onbekend, maar dit beteken die teenoorgstelde van traagheid of luiheid. ‘n Vlytige mens is ‘n energieke mens wat baie gedoen kry in min tyd. Hul is positiewe mense wat graag take aanpak en voltooi. Dikwels is die uitvoer en voltooiing van hul werk vir hul belangriker as die vergoeding wat dit inhou. Om iets goed te doen bring vir hul bevrediging. Om saam met sulke mense iets te doen is ‘n plesier. Die waarde van ‘n vlytige mens word deur die Woord onderstreep as ‘n kosbare skat.
SPREUKE 12:27-28 AFR53
[27] Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ‘n kosbare skat vir ‘n mens.
Die interresante uitdrukking “jaag sy wil nie op nie” , word in ander vertalings verklaar as; braai nie wat hy gejag het nie. Met ander woorde ‘n verkwister van geleenthede. In geloofslewe is dit ‘n tipiese passiewe Christen. Daar is ‘n bevoorregte geleentheid om die Here te dien, maar hul geloof word beskryf as lou. Christus se siening van die saak word gegee in:
OPENBARING 3:16-17 AFR53
[16] Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. [17] Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
Christus het gekom sodat die mens se verhouding met God herstel kan word. Die klem is op verhouding met ‘n ekstreem meerdere, God. Sonder ywer kan ‘n mens nie hierdie verhouding opbou nie. Ywer vir kennis van God uit die Woord, ywer vir gesprek met God deur gebed. Die mens, die mindere wat gehoorsaam buig voor God en Sy aangesig soek. Die vrug daarvan word beskryf :
SPREUKE 22:[28]
[28] Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.
Ek is van mening dat mens se Godsdiens vlytigheid gemeet kan word aan die hand van ‘n gebedslewe en Woord studie/lees. Die mens moet ‘n honger en dors na geregtigheid uitlewe. Hoe lyk my en jou toewyding aan ons verhouding met God. Kom ons vra Heilige Gees waar ons staan.
Genade en Vrede vir jou.
David