Goeiedag.
Tema: Resonans 2
Daar is ‘n onderskeid tussen hulle wat net in God glo, en die kinders van God wie se werke van hul geloof getuig. Die Woord se standpunt daaroor word gegee in:
JAKOBUS 2:19-20 AFR53
[19] Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. [20] Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
Hierdie werke wat gedoen moet word is werke van geregtigheid. Dit word uitgespel deur die Woord en sluit die tien gebooie se bepalings in met ‘n konsesie op die saak van die Sabatdag. Die Woord stel dit duidelik dat die hele Woord deur God gegee is ( 2 TIM 3:17 ).
Daarom gee SPREUKE die waarskuwing:
SPREUKE 13:13-16 AFR53
[13] Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding. [14] Die onderrig van die wyse is ‘n fontein van die lewe, om die strikke van die dood te ontwyk. [15] ‘n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard. [16] Elke skrandere handel met kennis, maar die dwaas strooi sotheid rond.
Wanneer die mens nie die HELE Woord aanvaar nie, kan hy nie in harmonie met God en medemens leef nie. Die mense se lewe is dan ‘n vals noot wat nie saam met God se lewengewende krag resoneer nie. Die oordenking van sy hart is dan dwaas en hy ontvang die vrug daarvan.
ROMEINE bespreek hierdie weg van vernietiging wat volg vir hul wat te slim is in hul eie oë. Ware wysheid is ‘n fontein van lewe SPR 12:14 en bied beskerming teen die bose. Dit speek van verstand en insig oor die lewe. Dit maak die geur van ‘n mens se lewe aangenaam deur die vrug wat jy dra. Jou werke in harmonie met God se Woord behaag Hom. Jou aanbidding behaag Hom, jou gebede behaag Hom, ens, want dit pas in met die bloudruk van Sy koninkryk.
God het ‘n manier waarop Hy dinge gedoen wil hê. As die mens sy eie maniere volg kan dit tot n ramp vir hom lei. Daar is te veel voorbeelde in die Woord om te noem, ek is seker jy kan self ‘n lys maak. Dit is gedurig nodig om vir Heilge Gees te vra of daar punte van dwaling in jou lewe is, doen jy dit ook?
Genade en Vrede vir jou
David