Goeiedag.
Tema: Weeg
Daar is ‘n mooi Arikaanse spreukwoord; “Moenie my vertel perdebolle is vye nie”. Die betekenis is duidelik, moenie mislei word nie, toets eerder alles wat jy hoor. Jesus waarsku herhaaldelik met erns daarteen en ook die Apostels.
I JOHANNES 3:7 AFR53
[7] My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.
Soos Jesus gee Johannes die maatstaf waarmee gemeet word naamlik geregtigheid. Die volgende twee verse is direk van toepassing op die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. Dit is asof Salomo ‘n profetiese insig gee oor die laaste dae.
SPREUKE 13:17, 20 AFR53
[17] ‘n Goddelose boodskapper val in die ongeluk, maar ‘n betroubare boodskapper is ‘n gerusstelling.
[20] Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.
Die Here het die verkondiging van SY reddingsplan, Evangelie, aan die mens toevertrou. Dit is nie ‘n Evangelie van sagtheid nie, maar ‘n radikale evangelie wat redding bring. Dit bring nie gemak en tevredenheid nie, maar suiwering deur beproewing en versoeking. Die mens is duur gekoop deur die bloed van Christus. Dit het Sy hele menswees gekos, netso kos dit my en jou hele mens wees. Christus gaan sovêr om te sê: bereken die prys wat jy gaan betaal en besluit of jy kans sien daarvoor al dan nie. (LUKAS 14). Paulus rig die waarskuwing aan Timoteus:
II TIMÓTHEÜS 4:3 AFR53
[3] want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
Indien die Evangelie wat aan jou verkondig word nie jou lewe moeilik maak nie, is dit nie die regte Evangelie nie. Dan is dit ‘n slaap pil wat in die ewige verderf in sus. Die ware Evangelie vereis bekering van dooie werke, belydenis en restitusie, heiligmaking, gehoorsaamheid aan die Woord, en derglike moeilike disiplines. Die Woord sê, stry hard om in te gaan, duidelik nie ‘n maklike pad nie. Gaan met die wyse en nugter mense om, sodat jy nie mislei word nie. Vir my persoonlik is dit ‘n ernstige uitdaging, wat van jou?
Genade en Vrede vir jou.
David