Goeiedag.
Bouende tug
Goeie en gelukkige lewens word gekenmerk deur gedisiplineerde gedrag. Sulke mense het gewoonlik vaste roetines waarby hul nougeset hou. Die woord dissipel en dissipline is taalkundig nou verbind. ‘n Dissipel is iemand wat ‘n ander se lering en idees noukeurig volg. Dissipline is om dit wat jy leer in dissipelskap, jou eie te maak en te besmeester om daarvolgens te leef. Indien jy ‘n dissipel van Christus is sal Hy jou tugtig uit liefde om jou te verbeter. Die volgende verse gee insig op die aard van tug en gevolge daarvan:
SPREUKE 13:18, 21, 24 AFR53
[18] Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geƫer.
[21] Die onheil vervolg die sondaars, maar Hy sal die regverdiges met goed vergelde.
[24] Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.
Die Here tugtig nie mense wat onwillig is om tug te ontvang nie. Dit mag skokkend wees vir sommige, maar God verwerp mense wat koppig volhard in hul eie idees. Lees gerus maar Saul se lewens verhaal, daar is verskeie sulke voorbeelde in die Woord. Soms beleef en voel die mens dat die tug te swaar is. Sien die volgende twee gebede tot sagtheid van God se kant af:
JEREMIA 10:24 AFR53
[24] Tugtig my, Here, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.
PSALMS 89:48 AFR53
[48] Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mense kinders geskape het!
Daar is kulture waar tug nie deel is van nie, hul word gekenmerk deur nuttelose afstootlike mense. Wie het nie ‘n hekel in bederfde kinders nie, heel onsmaaklike wesens. Die Here se begeerte dat Sy kinders die aangename geur van die vrug van die Gees versprei. Hul moet ambasedeurs wees wees van die Koninkryk van God. Ek is bevrees dit is ‘n saak van reg of weg as daar gekyk word na die geskiedenis van Israel van ouds. Laat ons tug omhels uit dankbaarheid oor Sy liefde en omgee in elk van ons onderskeie lewens. Laat ons dit verdra en groei daardeur.
Genade en Vrede vir jou.
David