Goeiedag
Tema: Siels honger
Om honger te wees is ‘n primêre lewens stimulus. Dit kan ‘n mens selfs aanspoor tot abnormale gedrag. In die Woord lees ons dikwels van beleeringe van stede wat die gevolg het dat mense hul eie kinders moes eet vir oorlewing. Behalwe kos honger is daar ook honger vir liefde, doel in die lewe, sukses, geregtigheid ens.
AMOS 8:11 AFR53
[11] Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.
Baie gelukkig is die mens wat honger en dors na geregtigheid (Mat 5:6). Ons lees:
SPREUKE 13:25 AFR53
[25] Die regverdige eet totdat hy versadig is; maar die maag van die goddelose ly gebrek.
Hierdie Woord gaan nie net oor die fisiese liggaam nie maar geld ook vir die siel en gees. Vir die mens in sy soeke na die sin van die lewe gee Jesus die antwoord:
JOHANNES 6:35 AFR53
[35] En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
Wanneer die mens alles het in die lewe, wat die lewe kan gee, het hy nog niks. Hy kan dink hy is ryk en verryk,maar in werklikheid is dit ‘n toestand van naaktheid, beklaenswaardig en armoede (OPEN. 3: 17-18). Daar is slegs een manier om uit ellende te kom en dit is om te werk.
Dit geld op die fisiese sowel as die geestelke gebied. Wanneer die Woord dan die stelling maak: “Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid” beteken dit werk. Soek is werk, soek is nie om ander te vra nie maar beteken ‘n definitiewe fokus, en tyd spandeer om iets te vind. Dit gebeur nie terloops nie, dit vereis ‘n poging van jou kant af. Dit help nie om die koninkryk te loop soek waar dit nie is nie, dit is tevergeefs, dit soos om spreekwoordelik te soek na wors in ‘n hondehok. Die koninkryk is te vinde in gebed en die Woord. Dìe sal jou honger en dors stil, niks anders nie. Daarsonder leef ons in ‘n beleerde stad en eet mekaar emosioneel en geestelik op, sonder vrede.
Genade en Vrede vir jou.
David