Goeiedag.
Maskers
Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord wat lei: Ander se boeke is vir jou duister om te lees. Dit beteken dit is moeilik om ‘n ander persoon se sake te verstaan. Dikwels word ons konfronteer met moeilike mense wat onredelik optree. Ander kere loop jy ‘n vrolike persoon raak.
In beide gevalle weet jy nie regtig wat gaan in die persoon se hart aan nie, want mense dra maskers. Met maskers versteek mense hul ware emosies en bedoelings. Die volgende aanhaling spreek juis dit aan:
SPREUKE 14:13-14 AFR53
[13] Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so ‘n blydskap is bekommernis. [14] Uit sy eie wandel word die verkeerde van hart versadig, maar die goeie man uit syne.
Dit vereis wysheid en onderskeiding om ‘n verskil in ‘n ander se lewe te maak. Dikwels stuur die Here ‘n persoon op jou pad sodat jy kan help. Hierdie Skrifte is nie net daar vir kennis nie, maar is om ‘n mens atent te maak daarop dat ons dieper moet luister na ander. ‘n Mens se woorde en dade verraai sy diepste begeertes. Dit vra geestelike volwassenheid om objektief na mense te luister en reg op te tree. Om ander te veroordeel en te beskinner is om vir duiwel te werk, sy koninkryk te bou. Om Christus se koninkryk te bou moet mense herstel word. Dit sluit liefde sowel as ontnugtering in. Dink maar aan Jesus se woorde aan Petrus:
MATTHÉÜS 16:23 AFR53
[23] Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.
Ek is seker dit het Petrus se wind uitgeslaan. Maar dieselfde Jesus sê vir ‘n doodsveroordeelde vrou:
JOHANNES 8:11 AFR53
[11] En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.
Hierdie is totale kontrasterende optrede maar beide red ‘n lewe, omdat dit ‘n masker afhaal. Sal ons dan nie die Here pleit en bid vir die vermoë om mense se siele met die water van die lewe te voed nie ? Nie met emosie alleen nie maar met reddende krag van God
Genade en Vrede vir jou.
David