Goeiedag
Tema: Ongeduld
Die volgende woorde is oor iets wat die meeste mense al ervaar het:
SPREUKE 14:17 AFR53
[17a] Wie kortgebonde is, begaan sotheid;
‘n Humerige of kortgebonde mens verloor vinnig waardigheid en verander dan na ‘n onbeheersde gifpyl. Met die tong word mense verwond en verwyt. Verbale geweld wat soms groter skade aanrig as fisiese geweld. Slagoffers daarvan neem soms jare om te herstel en vertroue terug te kry. Soms is die skade permanent.
Dit is nogal opmerklik dat woede buie dikwels diep griewe in die hart openbaar, opgeboude bitterheid. Hoe groter die bitterheid, hoe meer die venyn en skerpheid van die woorde. Die sotheid is nie altyd in die vorm van woorde maar sluit ook in hooghartige stil stype waarmee die sot ander emosioneel wil manipuleer en verwond. Die Woord stel dit duidelik dat manipulasie sonde is, omdat ‘n persoon daardeur ‘n persoonlike begeerte op n ander wil afdwing.
I SAMUEL 15:23 AFR53
[23a] Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsĂȘery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.
Die tweede gedeelte van,
SPREUKE 14:17 AFR53
[17b] ; en ‘n slinkse man word gehaat.
Deurdat die [17b] gedeelte met ‘n ‘en’ begin dui daarop dat dit deel van die eerste eerste gedeelte is. Dit kan daarop dui dat dit ‘n uitvloeisel van die humerigheid is. Die doel van aggressie is gewoonlik intimidasie, om ander te dwing tot ‘n spesifieke optrede. Dit is ‘n slinkse manier om jou eie sin te kry.
Selfs die Here dwing niemand om iets te doen nie. God se beginsel is, vrye keuse vir elke mens. HY vat vrye keuse nooit weg van ‘n mens nie. Net die bose bind en onderdruk mense. God gee ‘n belofte:
HANDELINGE 2:21 AFR53
[21] En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Hulle wat ander onderdruk of afdruk is uit die bose, en dien die wil van Satan. Die Woord noem dit sotheid, die ergste vorm van verstandeloosheid. Dit is die teenoorgestelde van God se karakter wat mense vrymaak, genees, red, opbou en herstel.
Mag elkeen homself ondersoek of daar ‘n wortel van bitterheid, versterkte bitterheid in hul lewe is.
Genade en Vrede vir jou.
David