Goeiedag.
Tema: Oop vensters
Het jy ook al op ‘n koue winters oggend wakker geword met ‘n toe neus en ‘n ligte koue wind trekkie in die kamer? Net om te besef jy het die venster wat die kamer laat uitvars het, oop vergeet in die nag.
Dikwels laat ons ‘n venster oop in ons lewens waardeur die bose kom om aan te val. Net soos die koue trek ons kan siek maak. Salomo gee ‘n bedekte spreek uit as volg:
SPREUKE 15:17-18 AFR53
[17] Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby. [18] ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar
Beide verse handel oor onmin en ongelukkigheid. Waar onmin is, is daar nie vrede en blydskap nie. Dit versteur onder andere jou harmonie met die Here. Glo my nie? Luister na Jesus self se persoonlike raad:
MATTHÉÜS 5:23-24 AFR53
[23] As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, [24] laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.
Luister na Paulus wat dit nog meer direk stel:
I PETRUS 3:7 AFR53
[7] Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
Twee duidelike verwysings, dat sonder vrede in jou hart daar ‘n hindernis tussen jou en die Here is. Dit is nie eers noodwendig sonde nie, alhoewel sonde ook ‘n skeiding bring. Jy ken Ps 92; hy wat in die skuilplek van die allerhoogte sit? :
PSALMS 91:1-2, 5 AFR53
[1] HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. [2] Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
[5] Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
Net met die Vrede van God in jou hart en vrymoedigheid, kan jy in hierdie skuilplek ingaan. Onmin, ongelukkigheid, vrees, sonde en derglike dinge hou jou daaruit. Wat is in jou hart wat jou vrede steel? As jy nie weet nie vra? Soms is dit so diep verskuil dat jy nie eers self bewus is nie, maar jy dra die pyn daarvan in jou lewe. Hoe openbaar oop vensters in jou lewe?
Genade en Vrede vir jou.
David