Goeiedag.
Tema: Haastige woorde
Het jy ook al ‘n woord laat glip waaroor jy baie spyt was. ‘n Skel woord, of ‘n onrespekvolle woord , ‘n lelike woord of ‘n woord wat seer maak, ens? Waarskynlik; kyk hoe stel Jakobus dit:
JAKOBUS 3:6 AFR53
[6] Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.
Wow, lees gerus die hele hoofstuk. Die mens wat sy tong kan beheer is inderdaad ‘n volwasse mens en dit is ‘n getuienis van ‘n mens wat emosies kan beheer. Slegte woorde en woorde van verwerping verwond mense. Soms neem dit ‘n leeftyd om daarvan te herstel. Sommige mense herstel nooit nie en dra hul hele lewe die seer en bitterheid daarvan rond. Dit vra genade van die Here en baie tyd om te genees van emosionele skade. Berading en die opneem van so ‘n persoon in ‘n liefdevolle ondersteunings groep is maniere wat die Here gebruik vir herstel. Ek is seker jou hart bloei ook vir mense wat seer het.
‘n Gelowige se grootste kenmerk is liefde, daaruit spruit woorde van lewe voort. Dit is ‘n totale in kontras met die van ongevoelige mense. Vir ‘n gelowige om woorde van lewe te uiter bring diep vreugde, vir jouself en ook ander. Woorde soos dankie, asseblief, pragtig, mooi so, geluk, seën,….. Opregte woorde wat opbou, bemoedig, versterk, raad gee en lig bring.
SPREUKE 15:23, 28, 31 AFR53
[23] ‘n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!
[28] Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel.
[31] Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef.
Hierdie wysheid moet beoefen en ingeoefen word todat dit gewoonte en default optrede is. Jacobus gee gesonde raad om haastige woorde te keer:
JAKOBUS 1:19 AFR53
[19] SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.
Mag ons ook daarin genade en vrede vind.
David