Goeiedag
Tema: Planne
Planne, planne, planne, elke mens is vol daarvan. Planne om verpligtinge na te kom, planne vir die toekoms, planne vir gesin,….. Wanneer planne nie so glad verloop nie kom spanning, vrees en bekommernis. Let op die wysheid wat die Woord bring oor planne:
SPREUKE 16:1-4 AFR53
[1] DIE planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here.
Mens maak planne in sy hart, maar die Here gee die insig hoe om dit uit te voer. Die Here stel die mens in staat om sy gedagtes te orden sodat jy dit aan ander kan duidelik maak. Eers as jy dit kan duidelik uitlê met ‘n volhoubare plan is daar ‘n kans op sukses.
[2] Al die weë van ‘n man is suiwer in sy oë, maar die Here toets die geeste.
Die mens se hart is so bedrieglik dat hy homself om die bos lei. Baie word goed gedoen met eerlike motiewe, om net later ontnugter te word dat dit per slot van rekening maar net om jouself gegaan het. Die Here voorsien mildelik sodat ander in jou seën geseend kan word.
[3] Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.
Wanneer planne ‘n groter doel, as self het, koop die Here in, en maak dit uitvoerbaar. Om geseend en suksesvol te wees bring ‘n verantwoordelikheid van rentmeesterskap vir ‘n gelowige. Ek maak nou ‘n kontroversieële stelling: Alles wat jy besit behoort aan die Here en nie aan jouself nie. Jy is net daaroor aangestel om dit vrugtevol te bestuur, daaroor sal elkeen moet rekenskap gee. Ook van jou tyd tot jou beskikking.
[4] Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
As die vorige stelling kontroversieel was, blaas hierdie Skrif die boot uit die water.
Dit is ‘n totaal vreemde begrip dat die Here goddellose mense kan gebruik om gelowiges te straf. Tog is dit die verhaal van Israeliete in beide die Ou en Nuwe Testament. Selfs in die huidige lewe word tegnologie, mense en regerings gebruik om kinders van die Here beproef te verklaar. Kan jy daarmee saam stem?
Genade en Vrede vir jou.
David