Goeiedag
Tema: Kry liefde
Wanneer mens rondom jou kyk word jy oorweldig met al die elende en hartseer rondom jou. Ek dink die gemiddelde mens het al ‘n filter in sy gemoed geplaas om homself te beskerm. Dit is nie ongevoelligheid nie, maar net ‘n emosionele beskermings meganisme. Dit is nodig omdat elke mens onder stremming is in sy eie lewe. Soms net ‘n breek wil hê van eise en uitdagings wat jou gedurigdeur konfronteer. ‘n Mens raak sielsmoeg op tye. Soos ons deur die Wysheids literatuur beweeg, kan jy soms voel dit is net nog eise wat gestel word. Die teendeel daarvan is egter waar. Die doel van die wysheids literatuur is juis om jou toe te rus om makliker deur die lewe te gaan en jou paaie gelyk te maak. Dit is ironies dat daar hoop is wat geminag word; Jesus se eie woorde is;
MATTHÉÜS 11:28-30 AFR53
[28] Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. [29] Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; [30] want my juk is sag en my las is lig.
Dit is uiters belangrik om te onthou dat die Here ‘n volledige struktuur daar gestel het om gelowiges te versorg en op te bou in hul daaglikse lewe. Heel basies is, Sy Woord wat ‘n lig op ons pad en ‘n lamp vir ons voet is. Dan is daar die bedieninge deur God gestel.
EFÉSIËRS 4:11-12 AFR53
[11] En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, [12] om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus,
Die onderlinge byeenkomste, dienste, kerk, hoe dit al genoem word in jou omgewing is daar gestel om jou geestelik te versterk. Daarom sê die Woord:
HEBREËRS 10:25 AFR53
[25] en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, ….
Dit is die plek van versterking en liefde. Nie net ‘n bietjie liefde nie maar liefde in oorvloed. Daar skuur ons skouers met broers en susters in die geloof. Kosbaar, kosbaar, kosbaar, omhels jy die voorreg om in so ‘n groot familie te wees?
Genade en Vrede vir jou.
David