Goeiedag.
Tema: Selektiewe prysing
Ideale van sukses vind aanklank by alle mense. Wanneer ouers praat oor hul kinders word daar gewoonlik met trots gepraat oor hul sukses. Sukses word in die algemeen gemeet in wêreldse standaarde; geld, aansien, gewildheid, woonbuurt en ander derglike triviale dinge. Die Woord se waardestelsel is die teenoor gestelde. Vir seker is blink mense en blink dinge onbelangrik.
Kyk wat leer die Woord:
SPREUKE 16:5, 18-19 AFR53
[5] Elke hoogmoedige van hart is vir die Here ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.
[18] Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val. [19] Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.
Die Woord beklemtoon die waarde van nederigheid en die gevare van hoogmoed. Ken jy die spreekwoord: bo blink onder stink? Beteken; uiterlik goed maar innerlik sleg. Hoogmoed maak dat ‘n mens self die slegte innerlike in sy eie lewe as goed sien. Na my mening kweek die kultuur hoogmoed. Persone wat in ‘n spesifieke gebied presteer word op gehemel, ongeag hoe die res van so ‘n persoon lyk. Persone word nie oor ‘n spektrum van waardes evalueer nie maar net op een gebied.
Uit die Woord leer ons dat ‘n persoon se lewe oor ‘n spektrum van waardes evalueer moet word voordat hy kwalifiseer vir erkenning. Volgens die evangelie moet ‘n opsiener aan tenminste veertien kriteria voldoen voordat hy kan dien in die kerk (TITUS 1: 5-9). Indien hierdie beginsel in die samelewing toegepas was, sou ons ‘n totaal anderse samelewing beleef het. Dan sou ware sukses geëer en waardeer gewees het, mense van edel karakter sou lei en in beheer gewees het. Dit bring ons by die vraag, hoe lyk jou maatstok waarmee jy meet?
Meet jy ander op n selektiewe manier volgens wat jy sien is belangrik?
Die Woord gee ons ‘n geweegde praktiese meetbare standaard in teenstelling met die selektiewe wyse van die samelewing. Gaan kyk in TITUS wat is die ware waardes.
Genade en Vrede vir jou.
David