Goeiedag
Tema: Erkenning gee
Dit is saliger om te gee as om te ontvang (HAND 20: 38), Jesus se eie woorde. Dit was vir my persoonlik baie moeilik om die Here aan te neem (te ontvang). Omdat ek nie kon aanvaar dat iemand soveel kan omgee dat Hy sy lewe vir my afgelê het nie. Dit is nie iets om op trots te wees nie, omdat dit slegs n simptoom van n verharde hart is. Ek kon en kan maklik gee, maar trots het gemaak dat my hart gesluit was om te ontvang.
Trots is dikwels maar net ‘n toring wat mense rondom hul bou, om hul kwesbaarheid weg te steek. Wanneer die Here deur Sy genade jou tot die punt bring waar jy jou gebrokkenheid besef begin ‘n nuwe lewe. ‘n Lewe van erkenning van jou eie onvermoë, ‘n lewe van blydskap en dankbaarheid oor die verbreking van die bande waarin jy geleef het. Dan verstaan jy die vrou se optrede beskryf in LUKAS 7: 36-50. Daar is min mense wat die diepte van die liefde van hierdie vrou sal verstaan. Sy wat totaal gebroke was in liggaam, siel en gees het waarlik lewe en redding ontvang. Probeer jouself indink in haar gemoeds belewenis (Lees gerus). As jy so vol dankbaarheid is, is die volgende verse jou lewens belewenis:
SPREUKE 16:6-8, 17 AFR53
[6] Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die Here wyk ‘n mens af van die kwaad. [7] As die Here behae het in die weë van ‘n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou. [8] Liewer ‘n bietjie met geregtigheid, as ‘n menigte van inkomste met onreg.
[17] Die gemaakte pad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat op sy wandel ag gee, bewaar sy lewe.
Miskien het jy met relatiewe voorreg en gemak deur die lewe gekom, wees dankbaar daarvoor, want dit is nie die normaal nie. Daar is ander wat gebreek is deur die lewe, en tog gered is; vir hulle is Christus meer as vir ander. Mag elkeen van ons radikaal leef vir Christus ongeag die verlede. Hoe getuig jou lewe van erkenning vir die genade wat jy ontvang het om gered te wees? Weerspieël my en jou lewe die genade pad waarop ons loop?
Genade en Vrede vir jou.
David