Goeiedag.
Tema: Die Woord
Het jy ‘n begeerte dat reg, geregtigheid, orde, en ander goeie gebeure in die samelewing sal heers? Ek dink dat dit regverdige aaname is dat dit die begeerte van elke regdenkende mens is.
Wat ons in werklik vir mekaar sê, is dat elke mens en ook die samelewing in die lig sal wandel en nie in duisternis nie. Lig is slegs te vind in die orde wat die Woord bring, rebelleer die mens daarteen, rebelleer hy teen God. Word die gedagte nie mooi opgesom deur die volgende sinne nie:
SPREUKE 16:20-22 AFR53
[20] Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die Here vertrou, is gelukkig. [21] ‘n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering. [22] ‘n Fontein van die lewe is die verstand vir sy besitter, maar die tugtiging van die sotte is sotheid.
Die Here het die tien gebooie as fondament gegee vir orde in die samelewing. Hierdie orde lei ons na Christus toe, die enigste Saligmaker van die mens.
GALÁSIËRS 3:24 AFR53
[24] Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
Hierdie gedagte word implisiet in genoemde vers [20 ]bevat. Die ander verse uit Spreuke dui op die resultaat van ‘n lewe waarin daar op die Here vertrou word. Wanneer ‘n mens tot bekering kom, keer hy sy rug op ‘n lewe van wanorde en aanvaar die wet van God. Hy aanvaar dat sy eie heil slegs eksklusief in die orde van God te vind is. Die wet is soos die pad wat na ‘n deur lei, waar die deur Jesus Christus is.
Wanneer ons deur die deur Christus gaan, kom ons in die koninkryk van God. Daar is baie koninkryke, soos godsdienstigheid, humanisme, en baie ander wat op die oog af goed lyk. Daar is egter net een koninkryk van God, en dit is deur Jesus. In hierdie koninkryk is die eerste aksie die reiniging van sonde en ongeregtigheid, deur die bloed van Jesus Christus. Hoe langer die mens daar vertoef hoe meer word hy gereinig om in te pas. Die mens word nuut bekleë met Christus se karakter. Die Woord word sigbaar in die mens se lewe.
Genade en Vrede vir jou.
David