Goeiedag.
Tema: Lankmoedigheid
Tot watter mate het jy al lankmoedigheid, deel van jou lewe gemaak?
Sonder lankmoedigheid is frustrasie jou deel. Om lankmoedigheid te wees is nie om stadig en traag te wees nie. Lankmoedig is meer gefokus op langtermyn doelwitte as kort termyn mikpunte. Gefokusde en doelgerigte werk bring sukses in die kort sowel as in die lang termyn.
SPREUKE 16:32 AFR53
[32] Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheer, as een wat ‘n stad inneem.
Heldhaftige optrede is gewoonlik op die impuls van die oomblik. Terwyl hy wat sy gees beheer die insig het oor kort en langtermyn doelwitte. Om iets op te bou vanaf ‘n basis tot lewensvatbare entiteit neem jare. ‘n Goeie voorbeeld is ‘n huwelik, vanaf die verlief jare tot ‘n verhouding van wedersydse vertroue en respek neem tyd, dit gebeur nie oornag nie. Wanneer ‘n persoon geseend is met ‘n gesonde verstand en insig, maak dit ‘n opbou proses makliker. Foute word herstel en vergifnis bring vrede.
SPREUKE 19:11 AFR53
[11] Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe.
Wanneer ‘n persoon ‘n kind van die Here word , word hy ‘n vyand van die wêreld met gepaardgaande vervolging. Die stryd hou nooit op nie en dit vereis lankmoedigheid om daarmee vrede te maak. Die situasie word die beste illustreer deur die opbou van Jerusalem se mure na die terugkeer van die Jode uit Babilon:
NEHEMÍA 4:17-18 AFR53
[17] Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou, [18] en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het.
Is jy bewapen met lankmoedigheid op jou geloofspad ? In tye soos nou waar donkerheid toesak moet elkeen die geloof behou. Hy hou jou vas al beleef jy dit nie altyd nie. Die bereidheid om swaar tye te verduur te wille van dīe geloof is die vrug van lankmoedigheid. Waak en bid sodat jy staande kan bly en nie moedeloos word nie.
Genade en Vrede vir jou.
David