Goeiedag.
Tema: Verbeelding
Stem jy saam dat dagdrome lekker is omdat enige iets gedroom kan word, en daar geen moeite of swaarkry om dit tot stand te bring nie. Dagdrome kan egter ook uiters nuttig wees want dit is die geboorte plek van nuwe idees. Dit vra egter nugterheid , harde werk en seën om ‘n dagdroom ‘n werklikgeid te maak. Die volgende vers illustreer ‘n tipiese voorbeeld van dagdroom:
SPREUKE 18:11 AFR53
[11] Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ‘n steil muur in sy verbeelding.
Die gedagte dat rykdom veiligheid, geluk en sekuriteit bring is nie waar nie en is slegs verbeelding. Tog jaag mense agter geld aan want hul glo die illusie. Rykdom bring gemak, maar ook vrees.
Hierdie beginsel van om verbeelding en mites te glo is van toepassing oor die hele spektrum in die lewe. Wanneer jy deur die meule van die lewe gaan, leer ‘n wyse mens waarheid. Meule verwys na tye van swaarkry, verdrukking, verwerping, teleurstelling, ens. Die Here laat dit toe in elke gelowige se lewe sodat hul geestelik kan groei. Daar is verskeie Skrifte wat daarna verwys, hier is een van die baie:
PSALMS 119:66-67 AFR53
[66] Leer my ‘n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. [67] Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
In Paulus se geval het hy selfs ‘n permanente skeet van die Here gekry om hom nederig te hou.
II KORINTHIËRS 12:7-8 AFR53
[7] En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. [8] Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk….
Die Here soek mense wat Hom in Gees en waarheid dien, nie met fabels, mooi woorde, verbeeldinge, en verdigsels nie. Die Psalmis se begeerte is:
PSALMS 139:23-24 AFR53
[23] Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; [24] en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!
Dit is ook my gebed en smeking dat SY waarheid in my lewe sal heers.
Wat van jou?
Genade en Vrede vir jou.
David