Goeiedag.
Tema: Vernedering
Die lewe is ‘n gelykmaker. Almal word groot met ideale wat jul wil bereik. Die meeste van dit val plat want die geleenthede is beperk of die aanleg is nie daar nie. Dit is een van die grootste lesse in die lewe om te leer is dat jy nie die beste is nie. Daar is altyd iemand beter as jy in elke gebied, maar daar is ook niemand so uniek soos jy nie. Elkeen het ‘n rol te vul in die lewe wat die Here vir hul bepaal het. Eers nadat die jeugtelike voortvarenheid en hoogmoed gebreek is, kan jy nuttig wees.
SPREUKE 18:12 AFR53
[12] Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.
Die mens kan uit eie krag baie hoë hoogtes bereik, maar die mens met die Here in sy lewe kan onbeperkte hoogtes bereik. In die Woord is ‘n versameling van die lewensverhale van mense wat hul top potensiaal bereik het. Ons sien ‘n beeld van edel mense maar almal het foute gemaak wat nie weggesteek word nie, maar ook nie teen hul gehou word nie.
‘n Baie besondere verhaal vir my is die van Noag. Hoe hy en sy gesin die krag ontvang het om ‘n massiewe boot te bou wat uiterse storms weerstaan het. En net toe mens dink alles het volmaak verloop, drink hy te veel en kom daar skande. Wat ‘n teleurstelling. Het dit Noag gediskwalifiseer as kind van God? Nee, anders sou sy verhaal nie in die Woord opgeneem gewees het nie. Noag het sy roeping in die lewe vervul, tenspyte van sy val. Daar is verskeie sulke verhale, Rut, David, Salomo, Gideon, Petrus,……,te veel om te noem. Almal inspirasies vir ons om te weet dat al breek die lewe mens, die Here jou herstel en nuut maak vir ‘n groter voorwerp van eer vir Sy naam. Vir Petrus wat eers ‘n verraaier was, sê Jesus:
MATTHÉÜS 16:18 AFR53
[18] En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Lees gerus Matt 16 vir konteks. Die nuwe Petrus raak deel van die rots JESUS CHRISTUS. Mag ek en jy nie verbreking wat in ons lewe gebeur het minag nie, die Here het in Sy genade dit gebruik om elkeen ‘n nuwe lewe in Hom te gee…..
Genade en Vrede vir jou.
David