Goeiedag.
Tema: Luister mooi
Om werklik te luister is ‘n kuns, dit vra aandag en begrip. Daar moet so geluister word dat die gedagte van die spreker duidelik verstaan word. Dit is net die woorde waarna geluister word nie maar ook die nie-verbale kommunikasie wat plaasvind. Subtiele tekens soos die gees van die persoon, gesig en lyf uitdrukkings ens. Dan moet die gedagte getoets word, voordat terugvoer gegee kan word.
Het jy ook al beleef dat mense antwoorde gee voordat ‘n gedagte voltooi is? Kyk wat sê die Woord hieroor:
SPREUKE 18:13 AFR53
[13] Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ‘n sotheid en ‘n skande wees.
In die boek Job vind ons ‘n gesprek tussen volwassenes, argumente en teen argumente, elkeen word ‘n geleentheid gegee om te spreek. ‘n Gelyke speelveld vir jonk en oud. Lees gerus Job en sien die pragtige illustrasie en woorde speling, voorwaar uniek. Job se vriende het hom gehoor, maar ook nie, want die onrreg in sy saak was buite die normaal. Vir hul was dit ondenkbaar dat Job se elende nie ‘n gevolg was van verkeerde dade nie, wat nog van goeie dade.
Luister na die betoog van Moses as hy die volk roep om na hom te luister:
DEUTERONÓMIUM 32:1-2 AFR53
[1] LUISTER, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. [2] Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.
Moses vra volle aandag en oordenking van dit wat hy gaan sê, voordat hy dit sê. In effek sê Moses luister mooi, met jul harte en verstand. Moenie ‘n sot wees wat tot ‘n vinnige opinie kom en dan van die punt af antwoord nie. As kind het ek by die voete van ‘n Gamànliël gesit en was verstom oor die wysheid uit die Woord. Die sulkes is raar om te vind, skaars soos hoender tande, maar hul is daar. Is jou luister vaardighede so ontwikkel dat jy sulke persone kan herken? Kan jy mooi luister sodat jy God se stem kan hoor en herken. Mag die Here ons die verligte oé gee, die verstand gee, om Sy Woord te hoor.
Genade en Vrede vir jou.
David