Tema : Leef Seën
Goeie dag.
Gelowiges is bevoorreg om deel te wees van die grootste eer wat aan ‘n mens bewys kan word, en dit is om ‘n kind van God te wees. Hierdie voorreg vul jou met liefde vir ander en dring jou om met ander te deel. In die brief aan die KOLOSSENSE sien ons hierdie gesindheid:
KOLOSSENSE 1:9-10 AFR53
[9] Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, [10] sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,….
Paulus se hartsbegeerte is dat elke gelowige die volheid van ‘n verhouding met Christus sal ervaar. So ‘n verhouding is ‘n baie kompleks verhouding en raak elke aspek van menswees aan. Christus is God die Seun, wat ons lei deur God die Heilige Gees, ter verheerliking van God die Vader. Voorwaar nie eenvoudig nie.
Wanneer ons die vermelde Skrif met aandag lees, sien ons die aspekte; gebed; kennis; wysheid; geestelike insig; waardigheid; vrugte dra en vele ander, as ons die res van die boek lees. Dit bring ‘n ander beeld na vore as net dié vergifnis van sonde, emosionele belewenis en aanbidding.
As deel van die ewige koninkryk van God staan ons ook in ‘n werksverhouding met God. In hierdie werksverhouding lei die Here die hele liggaam (kerk) waarin elkeen sy deel doen. Die werk word nie net vir liefde gedoen nie maar daar is vergoeding vir elke goeie daad. Dit is so maklik om te dink dat net die groot sigbare werk vergoeding ontvang. Die onsigbare soos gebed, moederliefde, gesins hoof, almoese, getuienis leef, heiligheid, omgee en sulke kwaliteite vorm die liggaam van die kerk. Geen goeie daad word as vanselfsprekend aanvaar nie, al lyk dit ook klein. Hierdie werke bring seën in die lewe van ander.
Dankie Here vir al die onsigbare werke wat my lewensrigting bepaal het.
Genade en Vrede vir jou. David